BANKBESONDERHEDE

Bank: ABSA
Rekeninghouer: NG Kerk Parowvallei-Oos
Takkode: 502110
Rekening nommer: 390580126
(Voeg naam van deponeerder by)

DEBIETORDERVORM
Laai gerus ons gemeente se debietordervorm hier af.

Programitis

 

Dit kan gedefinieer word as die afhanklikheid van programme wat deur ander mense (soos megakerke) ontwikkel is. Hierdie programme belowe leraars en Christenopvoeders dat hulle aan die voorpunt van kultuurrelevansie sal staan, dat hulle getalle sal groei en dat daar groter deelname van lidmate aan die bedienings van die gemeente sal wees.

Hierdie programme het sekere eienskappe in gemeen: hulle moet aangekoop word; leiers moet gewerf en opgelei word; hulle is geskryf en ontwerp buite die konteks van die plaaslike gemeente; daar is dikwels ‘n opvolgprogram.

Hierdie programme is nie verkeerd nie en gemeentes moenie ophou om hulle te gebruik nie. Hulle kan ‘n belangrike rol in die gemeente speel. Die probleem is dat hierdie programme dikwels die basiese praktyke van geestelike groei vervang — ons soek kitsantwoorde. In ons huidige kultuur word ons geleer om altyd buite onsself vir antwoorde te soek. Dit beteken ons raak afhanklik van ingevoerde tegnieke en tegnologie. Programme het ‘n rol om te speel, maar ons raak baie afhanklik van hulle.
Omdat die gemeente belê het in ‘n verskeidenheid van programme het ons die basiese dinge nagelaat — ons plaas die gemeente en gemeentegroei voor Jesus Christus en sy evangelie. Ons beheptheid met programme en kitsoplossings maak dat gemeentes kerkgesentreerd en nie Christus-gesentreerd is nie.
Natuurlik is programitis omkeerbaar. Waar begin ons? Herken die probleem. Daarna moet jy ‘n baie eerlike evaluering van al die programme in die gemeente maak. Bepaal hoe hierdie programme in ‘n samehangende leerplan georganiseer kan word. Die sleutelfokus van die gemeente se hulpbronne en energie is om lidmate voor te berei om deel te neem aan God se missie in hierdie wêreld.

Die kerk as instelling
“Institutions are essential to the church’s mission, but they are not reality.” — N T Wright
Ek het onlangs geskryf oor die kerk as instelling/institusie. N T Wright het ‘n beeld gebruik wat dit vir my baie goed verduidelik. Die instelling is bloot die steierwerk en loodgieterswerk wat die gebou genaamd gemeenskap moontlik maak. Die steier- en loodgieterswerk is nie die werklikheid nie. As jy in iemand se huis ingaan, verwag jy nie om die loodgieterwerk te sien nie, maar jy moet weet dat dit werk — because if it’s not, fairly soon there’ll be a bad smell in the house.
Die kerk se instellings moet goed werk anders loop dinge skeef. Soms voel dit vir kerkleiers asof hulle die hele dag net op die steierwerk besig is — hulle woon nie in die huis nie. Iemand moet ongelukkig daardie werk doen, sodat die roeping van die kerk vooruit kan gaan.

Ons neem goeie besluite
Hoekom misluk leiers? Hulle neem slegte besluite. Jy kan nie leierskap van besluitneming losmaak nie — hulle is onlosmaaklik verbind. Dit is ‘n leier se besluite wat hom maak of breek. Om te voorkom dat hulle slegte besluite neem, vermy sommige leiers die neem van besluite. Dit is ‘n strategie wat nie oor die langer termyn suksesvol gaan wees nie.
Die ironie is dat om bevorder te word, moet jy oor ‘n redelike tydperk goeie besluite neem. Een slegte besluit mag egter fataal vir jou toekoms wees. ‘n Leier is eintlik maar net so goed soos sy laaste besluit.
Goeie besluitneming is ‘n vaardigheid wat ontwikkel moet word — soos enige ander vaardigheid. Almal van ons het al slegte besluite geneem. Iemand wat dit ontken is of nie eerlik nie of het nog nooit besluite geneem nie. Hoekom neem ons slegte besluite? Omdat ons nie die regte besluitnemingsmetodologie gebruik nie. Besluite geneem op gevoel het min waarde.
Die kern element in goeie besluitneming is om te leer hoe om ‘n oorweldigende hoeveelheid inligting te verwerk. Ons kan alleenlik hierdie volumes inligting hanteer as ons die verskillende insette filtreer — ons moet onderskeiding toepas.

Daar is ‘n hiërargie van kennis wat ons moet verstaan — nie alle insette dra dieselfde gewig nie. Die hiërarge van kennis is:

Gevoel. Dit is ‘n emosionele saak dikwels sonder enige onderliggende ondersteuning. Soms is dit egter al wat jy tot jou beskikking het. Jou gevoel/instink is dikwels waardevol om vooroordele raak te sien. Besluitneming gebaseer op instink kan verfyn en verbeter word.
Data. Rou data bestaan uit uiteenlopende feite, statistieke, lukrake insette, ens. Op sigself het dit min waarde. Jy kan nie goeie besluite op rou data neem nie.
Inligting. Hierdie rou data wat jy bymekaar gemaak het, word verwerk. Konteks en betekenis is nou by die rou data gevoeg.

Kennis. Kennis is inligting wat deur analise verfyn is — dit is getoets en bevestig. Daar is bewyse dat kennis korrek is.

Ons moet altyd onthou dat opinie en feite nie dieselfde ding is nie — ook nie teorie en kennis nie.
Nog ‘n faktor wat nie buite rekening gelaat kan word nie, is die bron van die insette. Goeie leiers soek beslis die insette van ander. Die probleem is by wie ons dit soek. Meer insette wat verkeerd is, verbeter nie besluitneming nie. Net om meer insette te vra, kan sake verwar. As jy na jou bron kyk, is geloofwaardigheid uiters belangrik. Is jou bron betroubaar en geloofwaardig? Sal jou bron jou vertel wat jy graag wil hoor of wat hulle graag vir jou wil sê of wat die harde waarheid is? Jy moet seker maak dat daar geen vooroordele by jou bron is nie.

Die omgewing waarin ons leef en werk is ingewikkeld. Daar is ook ‘n toenemende verwagting van leiers. Dit kan rampspoedig wees as jy nie ‘n spesifieke metodologie vir besluitneming het nie. Om die kanse vir swak beslissings te verminder, moet jy die volgende stappe volg:

a) Doen ‘n situasie-analise. Hoekom moet hierdie besluit geneem word? Wat sal gebeur as geen besluit geneem word nie? Watter data, navorsing, statistiek of ondersteunende inligting het ek tot my beskikking?
b) Onderwerp jou besluit aan openbare ondersoek. Daar is geen private besluite nie. Die besonderhede van enige besluit sal vroeër of later bekend word. Soek altyd terugvoer oor jou besluite.
c) Bepaal die koste en voordele. Regverdig die voordele van die besluit die verwagte kostes.
d) Wat is die risiko/beloning verhouding. Stel die moontlike belonings teenoor die moontlike risiko’s.
e) Is dit die regte ding om te doen? Soms voel jy ‘n besluit is reg, maar baie spanlede stem nie saam nie. ‘n Groot leier sal nooit oor sy waardesisteem of sy karakter of sy integriteit ‘n kompromis aangaan nie.
f) Neem die besluit. Leiers moet gewillig wees om besluite te neem. Jy moet die beste besluit moontlik neem al het jy nie al die inligting beskikbaar nie. Te veel analises sal jou verlam. Geleenthede wag nie tot jy eendag bereid is om ‘n besluit te neem nie.

Die Kerk as leierskapsinrigting
Die opleiding van kerkleiers skuif al hoe meer van opleiding aan inrigtings na ‘n kerkgebaseerde model. Vandag se leraars is besig om die Timoteusse van môre op te lei. Hierdie nuwe leiers word toegerus om die geestelike DNA, die filosofie van bediening, ens oor te dra. Hoekom gebeur dit?
Kerkgebaseerde opleiding is meer prakties en koste-effektief. In die verlede was dit nie moontlik nie, omdat die nodige kundigheid nie altyd beskikbaar was nie. Soos tegnologie meer beskikbaar en goedkoper geword het, kan kerke gebruik maak van hierdie kundigheid — webinars, DVD’s, satelliet seminare, Internet hulpbronne en ander. Die plaaslike gemeente keer terug na die model van die vroeë kerk — dit word die broeikas waar nuwe leierskap kan ontwikkel.

Kerkgebaseerde opleiding is opleiding in diens. Die kerk moet leiers oplei om dit wat hulle geleer het op die markplein toe te pas.

Kerkgebaseerde opleiding help leraars. Die tradisionele opleidingsinrigtings se fokus is op inligting. Gewoonlik bied hulle nie veel praktiese hulp vir die plaaslike gemeenteleraar nie. Vandag soek jong leiers praktiese opleiding — hoe hanteer ek ‘n dwelmverslaafde; hoe besoek ek ‘n sieke in die hospitaal; hoe doen ek evangelisasie/uitreike/jeugbediening — om maar net ‘n paar te noem.

Die fokus van kerkgebaseerde opleiding val op karaktervorming, die dra van vrugte en betroubaarheid — die belangrikste Bybelse vereistes vir kerkleiers. Natuurlik moet hierdie studente ‘n soliede begrip van God se Woord hê.

Hoe hanteer ek kritiek?

Feit: Jy is nie altyd reg nie. Feit: ‘n Tweede of derde mening kan jou plan verbeter. Maar dan moet jy bereid wees om te luister en te leer.

Hier is ‘n paar maniere om kritiek te hanteer:
Net omdat jy tekort geskiet het, beteken nie dat jy misluk het nie. Niemand hou van kritiek nie. Niemand hou daarvan om te erken dat daar ‘n beter oplossing is nie. Daar is altyd beter oplossings. Kritiek is ‘n instrument, want dit gee ander perspektiewe. Leer van ander. Kritiek beteken nie noodwendig dat jy verkeerd is nie; dit beteken wel daar is ander moontlike perspektiewe.
Oop gedagtes; toe mond. Jy gaan partykeer verkeerd wees. Wees bereid om jou denke te verander. Moenie jou plan ten alle koste verdedig nie. Om kennis by ander te kry, is ‘n goeie manier om te leer.
‘n Negatiewe reaksie op kritiek vererger net dinge. Daar is baie dinge in die lewe wat nie 100% objektief is nie en daarom kan jy nie in 100% van gevalle reg wees nie.
Oorweeg die bron. Wie kritiseer? Ken hy die onderwerp beter as jy?
Wees bereid om van almal te leer. Jy kan leer deur net te luister. Jy hoef nie die ander persoon se siening te aanvaar nie. Kritiek beteken nie dat jou vrye wil nou skielik nie geld nie. As jy genoeg selfvertroue het, is kritiek nie ‘n bedreiging nie — dit is ‘n nuttige instrument. Leer deur te luister. Hoe meer perspektiewe jy sien, hoe beter is jy toegerus as soortgelyke omstandighede hulle weer voordoen.
Moet nooit kritiek persoonlik opneem nie. In gevalle waar jy gekritiseer word, is emosionele intelligensie dikwels belangriker as intellektuele intelligensie.
Nie alle kritiek is konstruktief nie. Daar is mense wat daarvan hou om jou konsepte uit mekaar te skeur — in die proses word jy ook sommer uitmekaar geskeur. Aanvaar dit — moet net nie reageer nie. Dit is nie maklik nie. Aanvaar wat jy nie kan verander nie.
Jy moet alles met ‘n oop gemoed benader. Soms is dit beter om te luister na die kritiek en te verander. Daar is nie net een manier om sukses te behaal nie.
Erken jou eie beperkings. Almal van ons het verskillende sterk- en swakpunte. Aanvaar jou beperkings en leer van ander.
Kritiek gaan oor die hantering van jou emosies. Dit is ook om te leer hoe mense dink. Plaas altyd die behoeftes van ander voor jou eie behoeftes.
Waar is die entoesiasme?

Ons begin ‘n nuwe program in die gemeente. Almal is opgewonde en entoesiasties. Maar gaandeweg verflou die belangstelling. Hoe kan ek hierdie entoesiasme behou?
(a) Verbind hulle met die groter prentjie. Hulle moet presies weet waar die program in die groter prentjie van die gemeente inpas. Mense wat deelneem aan die program wil weet of hulle ‘n verskil in die gemeente maak.
(b) Herinner mense aan hulle rol en hoekom dit belangrik is. Ja, ons weet die gemeente is belangrik, maar is die program en my bydrae ook belangrik? Hoe dra my rol by tot die roeping van die gemeente? Jy mag dit dalk verstaan, maar dit beteken nie dat al die spanlede dit verstaan nie.
(c) Moenie gedurig die beleid verander nie. Ons is so geneig om as iemand ‘n fout maak ‘n nuwe beleid te skep. Hanteer die probleem, want al hierdie nuwe beleide maak die hele gemeente net deurmekaar. Ons is later soos Gulliver — al die toutjies maak dit vir ons onmoontlik om te beweeg.
(d) Die leier bepaal die pas — hy bepaal hoe vinnig almal beweeg. ‘n Entoesiastiese gemeente sonder ‘n entoesiastiese leier bestaan nie. As jy wil hê mense moet positief wees, moet jy positief wees. As jy wil hê mense moet buigsaam wees en verandering aanvaar, moet jy buigsaam wees en verandering aanvaar. “Be the change you want to see in the world.” — Ghandi
Entoesiasme is aansteeklik.
Lei van agter

Dit is baie maklik om die pad van minste weerstand te loop as ons ons leiers ontwikkel — ons loop voor en hulle volg. Hierdie pad berus egter op ‘n reeks swak aannames. Om van agter te lei, is moeiliker en voel net nie natuurlik nie. As dinge glad verloop, gee ons nie om om in die agtergrond te bly nie, maar die oomblik as ons dink dinge is nie heeltemal reg nie, neem ons oor.
Natuurlik moet ons soms intree en ‘n situasie red. Krisisse gebeur en ons moet voorbereid wees om hulle te hanteer. Dikwels kon ons hierdie krisisse voorkom het as ons ons jong leiers beter voorberei het. Hoe doen ons dit?
Selekteer jong leiers wyslik. So dikwels vertrou ons nog op ons intuïsie — ‘n simplistiese benadering tot die seleksie van leiers. Ons aanvaar dat iemand wat ‘n bydrae gemaak het outomaties ‘n goeie leier sal wees. Soms glo ons dat senioriteit en ondervinding die belangrikste faktore is. Om te glo dat ouer mense beter leiers sal wees, is ‘n swak aanname. Hulle mag goeie leiers wees, maar dit is nie altyd so nie.
Verstaan die rol van die leier. Alle posisies van leierskap is nie dieselfde nie. Sommige is baie operasioneel; sommige is beheer en bevel (soos in meeste weermagte); ander vereis meer samewerking. As ek goed presteer in die een rol, beteken dit nie ek sal in ander rolle ook goed presteer nie. Alle leiers moet op die onverwagte kan reageer.
Identifiseer en ontwikkel leiers volgens hulle behoeftes en die vereistes van die rol. Ons is so geneig om ‘n generiese opleidingsprogram vir leiers aan te bied. Individualiseer jou opleiding.
Voorsien konteks. Wat is die organisasie se visie? Wat wil ons bereik? Waar pas hy in? Wat verwag jou span van jou? As ons dit nie doen nie, moet ons nie verbaas wees as dinge skeef loop nie.
Leer, moenie preek nie. Leiers word ten beste ontwikkel in ‘n klimaat van vertroue en wedersydse respek — ‘n klimaat waarbinne hulle kan eksperimenteer, innoveer en waag.
Wees geduldig. Aanvaar foute (binne perke). Omdat jy ouer is en meer ondervinding het, beteken dit nie dat jy al die antwoorde het nie. Daar is tye wanneer jy beheer moet oorneem. Dikwels is die beste benadering om stil te bly en later konstruktiewe terugvoer te gee. Teenstand en mislukkings is goeie instrumente om te leer.

Goeie leiers besef dat hulle op ‘n stadium so ‘n bietjie op die kantlyn moet staan en dat die jong leiers moet oorneem. Dit mag ons frustreer en bang maak en ons ego so ‘n bietjie buig. Die grootste erfenis wat ons kan nalaat, is ‘n geslag leiers wat die organisasie na die volgende vlak kan neem. En dit doen ons deur van agter te lei.

Boekresensie
Tim Challies skryf onder andere die volgende in sy resensie van Rhonda Byrne se boek The Power:
Needless to say, The Power is a bad book. A really bad book. It’s so utterly stupid, so unbelievably vapid, that it boggles my mind that anyone could read it and believe it. If you could package foolishness, if you could slap stupidity between two covers, you’d end up with The Power. Read it if you must, but as you do it, you’d better generate some good feelings toward brain cells; you’ll need to attract a few to yourself if you’re replace all the ones that are sure to die as you give hours of your life to all of this drivel.
Sjoe. Daar is darem min mense wat die moed het om so ‘n resensie te skryf. Ek sou eerder die boek ignoreer, maar is dit reg om wat verkeerd is net te ignoreer?

Wat lees ek tans?
Christians are Hate-filled Hypocrites … and other lies you’ve been told (2010) — Bradley R E Wright
Bradley Wright is ‘n Professor van Sosiologie aan die Universiteit van Connecticut. Hy het hierdie boek geskryf omdat hy ‘n probleem het met die statistiek wat kerke gebruik. Statistiek gebaseer op navorsing lyk amptelik en betroubaar. Die probleem is dat baie van die statistiek wat ons gebruik onvolledig, onakkuraat en geneig om die negatiewe te beklemtoon, is. Een van die groot probleme is die klein monster wat dikwels gebruik word. ‘n Ander probleem is dat ons net ‘n paar van die duisende statistieke wat jaarliks gegenereer word lees. Hoekom?
(a) Statistieke gegenereer deur akademici is dikwels so tegnies dat dit moeilik verstaanbaar is. Hierdie bevindings word dikwels in vreemde tydskrifte gepubliseer.
(b) Christelike navorsingsorganisasies is dikwels besig met navorsing vir ‘n spesifieke denominasie. Hulle bevindings is nie algemeen toepasbaar nie. Die gehalte varieer baie.
In hierdie boek word verskille tussen denominasies en nie-Christene beskryf, maar nie ontleed nie — ons weet nie wat die redes vir die verskille is nie. Die vrae wat, onder andere, hanteer word, is:
(1) Is die Christelike geloof op die rant van uitwissing?
(2) Is ons besig om ons jongmense te verloor?
(3) Doen en dink Christene Christelike dinge?
(4) Het Christene ander lief?
(5) Wat dink nie-Christene van Christene?
Die probleem is dat enige negatiewe statistiek oor Christene heelwat publisiteit kry. (Christene wat soos Christene optree, is nie nuus nie.) Hierdie publisiteit word deur die publiek — insluitend Christene — aanvaar. Daar is twee baie negatiewe bevindings wat Christene moet hanteer:
(a) Christene se gesindheid teenoor mense van ander rasse is negatief — meer so as die gesindhede van nie-Christene. Billy Graham se stelling (in 1950 in die Reader’s Digest) bly steeds waar: Eleven o’clock Sunday mornings is the most racially segregated hour in America.
(b) Christene se gesindhede teenoor homoseksuele mense (nie homoseksualiteit nie) is baie negatief.
Die skrywer se gevolgtrekking is dat Christene oor die algemeen goed doen ten opsigte van die sake wat ontleed is — nie uitstekend nie, kan verbeter. Hierdie boodskap verskil van dit wat ons normaalweg hoor. Ons moet ophou sleg voel omdat ons Christene is. Daar is baie goeie nuus oor die kerk.
Hierdie boek het baie statistiek gebaseer op groot databasisse. Vir my was dit lekker om ‘n positiewe boek oor die kerk te lees.
Aanhalings
“In a word, before undertaking any enterprise, careful preparation must be made.’ — Seneca
“Our earth is degenerate in these latter days … children no longer obey their parents.” Goeie beskrywing vir vandag. Hierdie is gekry op ‘n Assiriese kliptafel van 2 800 vC!
“The development of attention ought to be the sole object of education.” — Simone Weil
“Almost all men are affected with the disease of desiring to obtain useless knowledge.” — Johannes Calvyn

 

Rig alle korrespondensie aan coen@ekerk.co.za.
ekerk groete,
Coen Slabber

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.