Ware konneksie is moontlik
Op 24 Mei 1842 het Samuel Morse die eerste stukkie elektriese kommunikasie in die geskiedenis bewerkstellig. Sy eerste boodskap tussen Baltimore en Washington in die VSA was die woorde: “What hath God wrought?” Op daardie einste oomblik het die spoed van informasie vanaf ongeveer 75 kilometer per uur (oftewel, die spoed van die vinnigste treine in daardie tyd) dramaties toegeneem tot by vandag se ligspoed. Alles is vinniger, kragtiger en haastiger as ooit tevore. Dit voel kompleet of die wêreld buite beheer tol.
Die wêreld van ons dag het klein en vinnig bereikbaar geword. Almal is skielik op nuwe maniere verbind deur selfone en rekenaars. Nogtans is mense alleen, moeg, ontworteld en bedruk. Ons almal vrees daardie woord: “Disconnected!” Daarom smag ons almal op ons eie maniere na egte konneksie, dié soort wat nabyheid, aanvaarding en veiligheid bied. Hoor dan ‘n slag dat Christus se hemelse verbinding ‘n nuwe tuiskoms aan elke ontwortelde bied. Nog beter, Hyself is die enigste Tuiste wat rustelose harte tot bedaring bring. Rus vir jou gemoed — dit waarborg Jesus Self in vandag se blitsvinnige, alleen wêreld. Hy is die Een wat ons tot ‘n ewigheid ver anderkant die graf met sy Vader konnekteer.
Vrede
Stephan Joubert
