Parowvallei-Oos – van hooploos tot hoopvol
(Geskryf deur Hennie Heyman, gepubliseer in Kruisgewys Mei 2010)
Wanneer die leraar van ’n gemeente ná 24 jaar diens die kerkraad en gemeente meedeel dat hy buiteland toe emigreer, lok dit verskeie reaksies uit. Is dit iets wat die kerkraad of gemeente gedoen of nie gedoen het nie wat maak dat hy letterlik (of miskien figuurlik) “oppak”? Almal is ontnugter, teleurgesteld, verbaas – en sommige selfs kwaad. Party het met die hallelujaberyming saamgesing: “Heer, waar dan heen?”
In so ’n noodsituasie kom alles skielik op die kerkraad af. Daar moes letterlik oornag planne gemaak word om die vakature te vul op ’n manier dat dit die gemeente se profiel sal pas.
Brugpredikant
Uiteindelik het dinge heeltemal anders uitgewerk as wat ons kon droom. Een van die ouderlinge het teenwoordigheid van gees behou en met die sinodale kerkkantoor geskakel. Dié was baie simpatiek en het op sy beurt Communitas aanbeveel. Hulle raad: “Brugpredikant!”
“Wat is dit?” vra almal.
So het Parowvallei-Oos drie maande ná ons dominee se vertrek besluit om ’n brugpredikant vir ses maande in diens te neem, sodat ons kon dink. Die ses maande het 12 geword, en die 12 loop nou al amper na 18 maande toe.
Die uiteinde? Met die hulp en toestemming van die plaaslike ring is die kontrak van die brugpredikant beëindig en verander in ’n gewone termynkontrak. Dit het ons in staat gestel om die tydelike predikant ’n kandidaat te maak wat as voltydse leraar van hierdie gemeente beroep kon word. Dit het ons inderdaad in Oktober 2009 gedoen.
Die kerkraad het saam met die brugpredikant besluit: Ons wil groei en nie “onderhou” nie. Daarná was daar nie omdraaikans nie – al het die ou weë nog die maklikste gelyk. Met behulp van die brugpredikant het die kerkraad die volgende Godsvrae vir die kerkraad en die gemeente gevra:
• Waar en hoe werk God in die gemeente?
• Waar en hoe werk God in Parow?
• Hoe kan ons aansluit by God se werk?
• Wat wil God hê moet ons doen?
Die gemeente self het óók die Godsvrae gevra. Ons vra elke dag konkreet die vrae en soek om allereers te hoor wat God vir ons sê wat ons moet doen, voordat ons sommer goedsmoeds wegval en ons eie ding doen. Nou kan ons die halleluja verder sing: “Tot U alleen …”
In die afgelope 16 maande het die hele styl van kerk-wees, die houding van en verhouding tot dominee, kerkraad, bestuurspan, gemeentelede en jeug dramaties verander. Die dominee is nie meer die persoon wat alleen leiding moet neem en besluite formuleer nie. Baie pligte is na die bestuurspan toe afgewentel.
In die verlede het niks gebeur in die predikant se afwesigheid nie. As hy nie daar was nie, het al die gemeenteaktiwiteite tot stilstand geknars. Ná sy vakansie het dit weer ’n hele paar dae geneem voordat alles darem weer min of meer kon funksioneer. Die kerkraad, bestuurspan en die gemeente het besef dit kan nie langer so aangaan nie. In dié proses is hulle so bemagtig dat die leraar nou net die geestelike herder is. Al die ander dinge doen ons self. Hy hoef nie by alles teenwoordig te wees nie. Hy hoef nie by alles die voorsitterstoel in te neem nie. Daarvoor is daar genoeg bekwame mense in die gemeente.
’n Klomp goed
Om te groei, moes daar ’n hele klomp goed omgedraai, uitgebrei en nuut gemaak word. In die gemeente het die volgende gebeur:
1. Daar is 12 kerkraadslede aangewys om op ’n bestuurspan te dien. Aanvanklik het die bestuurspan elke Woensdagaand vergader om eers alles in plek te kry. Nou vergader hulle slegs die eerste Woensdagaand van die maand vir maksimum twee uur.
2. Die kerkraad vergader een maal per kwartaal saam met die bestuurspan. Die bestuurspan mag oor alles in die gemeente besluit. By elke vergadering bestee ons eers ten minste ’n uur aan “Wandel in die Woord” en luister na God.
3. Die weeklikse biduur en Bybelstudie is na ’n omgeegroep verander. Hierdie groep bestaan meestal uit afgetredenes en is so 20 persone sterk. ’n Hegte vriendskap het onder hulle ontstaan. Hulle is gerig op mekaar se behoeftes, maar ook na buite. Hulle samel vir ’n huis vir bejaardes binne die grense van Parow geld in. Hulle het al pannekoek vir die inwoners en personeel gaan bak. Die bedoeling is om die kultuur van omgeegroepe uit te brei en nog meer leiers te ontwikkel wat groepe kan lei en ontwikkel.
4. Volwasse lidmate wat die kinders in vier omgeegroepe hanteer het ’n jeugaksie “Ja-vir-Jesus” gestig. In ’n raps meer as ses maande is daar reeds meer as 60 entoesiastiese lede in hierdie aksie. Dié entoesiasme en ywer spoel nou ook na die kategese toe oor.
5. Die Vrouediens het maar voort gepoer-poer met ses lede. Nou is daar 20 baie vlytige dames wat nie kan wag vir geleenthede waar hulle diens kan lewer nie. Niemand hoef meer gevra te word om iets te doen nie, want almal bied dit spontaan aan.
6. Die gemeentelede is baie spontaan gedurende eredienste en neem heelhartig daaraan deel. Die totale gees in die erediens is anders. Gemeentelede kommunikeer méér en ánders met mekaar. Die stywe handdruk het plek gemaak vir ’n stywe drukkie. Selfs die kinders is baie spontaan gedurende gesinsdienste, gerig op kinders.
7. Daar is ’n voorsanggroep wat in die verlede slegs by spesiale geleenthede gesing het en gesukkel het om lede te behou. Nou lei hulle die gemeente by elke erediens in lof en aanbidding. Dit bestaan uit tien baie Geesvervulde lede wat die voorsang op ’n voortreflike wyse lei. Hulle maak beurte met optredes en bied wonderlike diensgeleenthede vir die jongmense.
8. Die eerste keer in die gemeente se geskiedenis van meer as 50 jaar word ná eredienste tee gedrink. Self die jongklomp kom drink tee vóórdat hulle Sondagskool toe gaan.
9. Die gemeente het deur ’n geloofsverbintenis aan ds Dirk en Taleta Coetsee van die Kinderevangelisasie-opleiding by Witrivier hulleself verbind aan die uitdra van die evangelie dwarsdeur Afrika. Die Coetsees is ook met handoplegging as sendelinge van die gemeente uitgestuur.
10. Die gemeente se twee aksies wat na binne op kinders en bejaardes gerig was, het die afgelope 16 maande merkwaardig uitgebrei. Daar is nou twaalf aksies, waarvan tien op aktiwiteite buite die gemeente gerig is.
11. Erediensbywoning toon positiewe groei. So ook gemeentedankoffers.
Wat het ons hieruit geleer?
• Dat jy ’n verlies in geleenthede kan omskep.
• Dat jy vorentoe en na Bo moet kyk.
• Dat elke persoon, klein en groot, in die gemeente belangrik is, en dat in elkeen potensiaal opgesluit is.
• Dat jy nuut, kreatief en wyd moet dink. Ons proses het weliswaar maar pas begin, maar daar het al wonderlike dinge in die gemeente gebeur, wat al wyer begin uitkring.
Ons vra nog elke dag na wat God wil hê ons gemeente moet doen. Daar staan immers in Jesaja 30: 18 en 19 geskrywe:
“Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp. Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.”
Ons kan nou al, ná slegs 16 maande, reeds uit volle bors sing: “Aan God al die eer, Hy wat wondere doen.”
(Geskryf deur Hennie Heyman in Maart 2010 vir Kruisgewys)
