BANKBESONDERHEDE

Bank: ABSA
Rekeninghouer: NG Kerk Parowvallei-Oos
Takkode: 502110
Rekening nommer: 390580126
(Voeg naam van deponeerder by)

DEBIETORDERVORM
Laai gerus ons gemeente se debietordervorm hier af.

Opinies oor kerkbywoning.

En op die sewende dag… is daar stilte?
2010-12-10 22:23 Nina Steyn

Dié handelsmerk het my verloor

Fanta is my gunsteling-gaskoeldrank. Sedert st. 3 simboliseer dit vir my verligting, hoop, vreugde en oorvloed. Hoekom?

Want ’n oranje vragmotor het een keer per kwartaal na ons armsalige asbesskooltjie, waar stof en fabriekrook ons speelterrein was, vir ons elkeen ’n gratis botteltjie Fanta en ’n oranje woer-woer gebring en ons laat glo daar is ’n toekoms en hy’s oranje.

Aan bemarkingskoste het Fanta seker net R100 aan my bestee – en daarmee my lewenslange lojaliteit gekoop.

Dieselfde geld Ster-Kinekor, Cadbury, All Gold, Toyota, Wimpy, Firestone, Aventura. Dié handelsmerke sal ek weens aangename konnotasies uit my grootwordjare my lewe lank liefhê, vertrou en, meer belangrik, koop.

Hoekom is die NG Kerk nie een van hulle nie?

Die Fanta-vrag¬motor het immers net een keer per kwartaal gekom, Ster-Kinekor het ons net een keer per jaar gesien en Wimpy het net met verjaardae gebeur.

Maar die NG Kerk het onbeperkte toegang tot my ontvanklike kinderpsige gehad: Eers in die moederskamer, toe kinderkrans en daarna twaalf jaar van kerk én Sondagskool. Voeg daarby kampe, staptoere, ACSV, JKJA, die studentekerk…

Dit is die soort handelsmerkblootstelling wat géén geld kan koop nie. Stel jou voor Coke, die magtigste handelsmerk op aarde, het dié soort toegang gehad. Die volk sou nooit weer water drink nie.

En tog, ná die kans wat die handelsmerk van die NG Kerk met my gehad het, het dit nie gewerk nie. Ná dekades se indringende bo-die-lyn- en onder-die-lyn-advertering, is die NG Kerk-handelsmerk nie iets wat ek wil koop, sien, dra of besoek nie.

Die meer as 10 500 lidmate wat die NG Kerk in die afgelope jaar verloor het, is waarskynlik, soos ek, in die kerk gedoop, aangeneem en getrou. Maar nie een van hulle wil meer soontoe gaan of daaraan behoort of hul tiende daarvoor gee nie.

Hoekom nie?

Die NG Kerk het my geen trauma of verdriet besorg nie. Ek is nie gay nie en die kerk moes nooit konferensies hou oor of ek hel toe gaan al dan nie. Ek is nie swart of bruin nie.

Ek was nooit terselfdertyd ongetroud en swanger nie. Ek was nie in die jare tagtig oud genoeg om egbreuk te pleeg nie. Ek is nog nooit verbied om nagmaal te neem nie. Niemand het ooit onsedelik aan my geraak tydens Sondagskoolkampe nie.

Ek het eintlik gelukkige herinneringe aan die kerk: my ma se blinkleerhandsak wat na pepermente en Red Door ruik, my pa wat so mooi in die ouderlingsbank lyk. Kinderdankoffer, kerkbasaars, middernagdienste op Oujaarsaand.

Maar dalk, toe ek groter word, het ek genoeg mense geken wat wel gay was, bruin was, swanger was, geskei was … Dalk het ek, toe ek die eerste keer vriende word met ’n Moslem, hard gesluk aan die teorie dat hy hel toe gaan.

Dalk het die uittog uit die NG Kerk iets met vrees te doen. Met die feit dat ek te bang is om dié rubriek onder my regte naam te plaas.

Want my arme ma. Wat sal die familie sê? Wat sal my baas se? Wat sal kerkgangers op die internet sê?

As ek eendag ophou Fanta drink, sal niemand omgee nie. Ek kan net ophou – sonder vrees vir die internet of die hel. En dalk is dit hoekom meer as 10 500 eks-lidmate deesdae op ’n Sondag eerder Menlyn as kerk toe gaan. Omdat niks in Menlyn hulle bang maak nie.

Die kerk het in sy bestaan meer goed as kwaad gedoen, maar dalk is dit die vrees en oordeel wat hy tussendeur saai, wat nou so dorstig onder sy lidmate maai. Dalk het vrees – eens die kerk se grootste vriend – sy grootste vyand geword. Dalk is daar vandag genoeg ander goed wat mense bang maak.

Die NG Kerk sal wys wees as hy meer aandag aan dié vraagstuk gee as aan debatte oor of gays die preekstoel en die hemel waardig is.

Anders kan die kerk altyd begin koeldrank en woer-woers by laerskole uitdeel.

Nina Steyn (skuilnaam), die skrywer van dié stuk, is Afrikaans, in haar dertigs en ’n joernalis.


’n Anderse koorspen vir die kerk

Die gesegde lui dat mense ’n leuen begin glo as dit lank genoeg verkondig word. Die dilemma is dat dié gesegde gedra word deur ’n ander een: Waar daar ’n rokie trek, móét daar ’n vuurtjie brand.Sou ’n mens die stories glo wat oor kerke die rondte doen, is die kerk in groot moeilikheid: Mense verlaat die kerk glo op ’n streep.

Maar as daar oor die lewenskragtigheid of doodsnikke van ’n kerk gepraat word, moet ons eers duidelikheid kry oor wat met die woord “kerk” bedoel word.

Die kerk is vir lank as ’n oorkoepelende organisasie, ’n kollektiewe entiteit, beskou. Die mense bo-aan die hiërargie sou die reëls maak en die lidmate sou dit bloot uitvoer en navolg.

Tog vergeet mense dat die kerk sy oorsprong in ’n geloofsbesluit vind. Mense wat “tot bekering kom” in die God van die Bybel, word deel van die kerk. Hulle word deel van ’n gemeente in die gemeenskap waar hulle bly.

Die kerk is dus eerstens ’n samevoeging van mense wat naby aan mekaar woon en byeenkom om Christus se saak in hul gemeenskap te bevorder.

Kerke se reëls het mense voorheen verplig om aan ’n spesifieke gemeente te behoort. Dié kunsmatige begrensing het gemeentes aan die gang gehou, want mense kon nie betrokke raak by ’n gemeente waarvan hulle nie ’n lidmaat was nie.

Maar deesdae skakel mense eerder in by ’n gemeente waarmee hulle aanklank vind – ongeag dié gemeente se kerkverband of belydenisgrondslag. Kerklike lojaliteit het dus ’n stille dood gesterf. Dit verklaar waarom sommige gemeentes groei, terwyl hul buurgemeentes doodloop.

Waaraan sal ’n mens dan die kerk se lewenskragtigheid meet?

Dit wil voorkom asof gemeentes doodgaan waar gemeenteleiers nie vorentoe kyk en strategies oor die gemeente se roeping nadink nie. Dié gemeentes is nie gereed of gerat vir veranderinge in hul gemeenskap nie.

Die meeste gemeentes oefen ’n strategiese keuse uit om verskeidenheid te akkommodeer. Daar waar gemeentes byvoorbeeld net een styl van aanbidding volg, sterf hulle soms ’n stadige dood.

’n Tweede maatstaf om die kerk se lewenskragtigheid te meet, is die vermoë van ’n gemeente om God as ’n werklikheid aan ge- meentelede voor te stel – gemeentelede kan dus sien en ervaar dat God in hulle midde aan die werk is.

Dié geloofslewe gaan dikwels gepaard met ’n beklemtoning van bonatuurlike goed soos genesings, wonderwerke en openbarings – dit verklaar die fenomenale groei van charismatiese kerke. Daar waar Jesus as ’n antieke, wyse man beskou word, word geloof soms deur logika oorskadu en sterf die gemeente.

Nog ’n moontlike maatstaf is gemeentelede se ywer om oor hul geloof te praat en mense met die boodskap van Jesus te bedien.

Mense word dikwels na gemeentes gelok waar gelowiges besorg is oor die nood van ander.

Heelwat gemeentes van die NG Kerk het in die afgelope tyd saamgesmelt. In dieselfde tyd het nuwe bedieningspunte as sendingprojekte in bestaande woonbuurte ontstaan. Sommige van hulle funksioneer nou as volwaardige gemeentes en dié gemeentes beskou hulself al meer as gemeenskapskerke.

Terwyl sommige predikante bekendheid verwerf vir hul “libe- rale” teologiese uitsprake, jaag ander wonderwerke na omdat hulle meer charismaties is. Ander is weer teologies behoudend.

Die meerderheid dominees bevind hulle iewers in die middel omdat lidmate ’n verskeidenheid van sienings huldig en die Bybel juis leer dat die kerk ’n plek is waar mense wat van mekaar verskil, kan tuis kom in Christus. As ’n mens dink die kerk moet noodwendig een ding verkondig, mis jy die Bybelse punt van eenheid-in-verskeidenheid.

Die gehalte en gesondheid van ’n gemeente word bepaal deur haar vermoë om mense te help om hul verhouding met Christus so uit te leef dat die samelewing iets van God se hart by hulle kan sien.

Is my kerk, die NG Kerk, aan die sterf? As ek na my gemeente kyk, sien ek ’n groep gelowiges wat biddend soek na God se wil vir ons gemeenskap. As ek na my kerkverband kyk, sien ek gemeentes wat floreer, sowel as gemeentes wat sukkel. En tussendeur die gebrokenheid sien ek veral God aan die werk.

As jy glo die kerk sterf, wys jy eintlik die vinger na jou eie gemeente. En omdat jy deel is van dié gemeente, wys jy ’n vinger na jouself. Wat doen jy om die gat wat jy vir jou kerk grawe, toe te gooi eerder as om dit dieper te maak?

Guillaume Smit is ’n predikant in die NG Kerk Brackenfell-Wes.



Lê die Christendom op sy sterfbed?

Meer as veertig jaar gelede het wyle Johan Heyns in sy boek Sterwende Christendom? die vrees uitgespreek dat die Christelike geloof – veral in Europa – aan die sterf is omdat teoloë soos Rudolph Bultmann en J.A.T. Robinson dit met hul sekulêre idees in sy kern aangetas het. Amper ’n halfeeu later is die vraag of sy vrese toe bewaarheid is – nie net in Europa nie, maar wêreldwyd?

In die 4de eeu ná Christus het keiser Konstantyn die Christelike godsdiens as ’n wettige godsdiens verklaar, en later het dit die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword. Kerk en staat het één geword.

Die funksies van die samelewing het die taak van die kerk geword: om ’n dokter te wees, moes jy kerk toe gaan; om onderrig te ontvang, moes jy kerk toe gaan; om na te dink oor die natuur, moes jy kerk toe gaan.

Selfs die Kerkhervorming van die 16de eeu het nie die magsposisie van die kerk in die samelewing ongedaan gemaak nie. Die Christelike verhaal het alles bepaal.

In die afgelope twee eeue het dié omstandighede ingrypend verander. In sekere wêrelddele het die kerk na die periferie van die samelewing geskuif.

Volgens Operation World was sowat ’n derde van die wêreld- bevolking, 1 973 miljoen uit ’n moontlike 6 065 miljoen mense, teen 2001 nominaal Christene. Van Afrika se destydse 784 miljoen mense was 48,4% in daardie stadium Christene.

Die Christendom was toe – en is steeds – die grootste godsdiens op aarde. Islam was tweede (21,1% van die bevolking) en die Hindoeisme derde (13,6% van die bevolking).

Volgens inligting wat in November vanjaar deur Markdata ingesamel is, tel die gereformeerde kerkfamilie (wat die NG Kerk, die Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerke en die Verenigende Gereformeerde Kerk insluit) nou slegs 46% van Afrikaanssprekendes onder hul lidmate. Tot 28% van Afrikaanssprekendes behoort aan Pinkster- en charismatiese kerke, terwyl meer as 6% van Afrikaanssprekendes aan geen kerk of geloof behoort nie.

Syfers soos dié moet natuurlik met groot omsigtigheid hanteer word.

Al sou die syfers korrek wees, is daar dikwels allerlei vreemde redes waarom mense aandui hulle is aanhangers van ’n bepaalde godsdiens of kerk. Boonop beteken ’n formele verbintenis aan ’n geloof en kerk min as dit nie vir die betrokkenes regtig waarde het nie. Die ouens wat net naby die kerk kom as daar iets op hulle gegooi moet word – water, konfetti of kluite – se kerklidmaatskap beteken feitlik niks en hul geloofsverbintenis is verdag.

Operation World se beraming dat meer as 70% van Europeërs nog tot die Christendom behoort, laat ’n mens met ernstige vrae.

Die Nederlandse koerant Trouw berig onlangs onder die opskrif “God wijkt, maar religiositeit blijft” oor die uitslag van ’n opname oor spiritualiteit. Die meeste respondente beoefen blykbaar ’n soort “geestelikheid” en baie glo in ’n “hoogste wese”, maar min glo in ’n “persoonlike God”.

En van ’n kerklike verbintenis is daar by die meeste min sprake. Volgens die Biskoppe-konferensie van Frankryk gaan net 2 miljoen van die 42 miljoen Katolieke in dié land gereeld na die mis.

In sommige wêrelddele toon die Christendom wel onverwagte groeikrag: In China, ’n land met nagenoeg 1,3 miljard mense, het die Christelike geloof in die afgelope dekades wortelgeskiet en ontwikkel tot ’n egte Chinese godsdiens. Sommige waarnemers meen Christene het in 2006 sowat 5% van die Chinese bevolking uitgemaak – tot 65 miljoen mense.

Afrika is die vasteland waar die Christendom die meeste groei. Volgens ’n verslag wat in 2010 deur die Pew Forum on Religion and Public Life uitgereik is, bevat Afrika suid van die Sahara een uit elke vyf van die wêreld se Christene en een uit elke sewe van die wêreld se Moslems.

Die demokratisering van Suid-Afrika en die gepaardgaande transformasie het onvermydelik tot groot onsekerheid, selfs vertwyfeling, by wit mense, by name Afrikaners, gelei. In die anderhalwe dekade wat op die euforie van 1994 gevolg het, het nagenoeg ’n miljoen mense – hoofsaaklik wit mense en baie van hulle Afrikaners – die land permanent verlaat.

Die geloofwaardigheid van die Afrikaanse kerke het vanweë hul ondersteuning van apartheid by baie onder verdenking gekom.

Jong Afrikaners se prioritisering van waardes het in post-apartheid Suid-Afrika drasties verander, blyk uit Jan van der Merwe se doktorsgraadtesis, Afrikaners in Post-apartheid Suid-Afrika: ’n Antropologiese Perspektief.

Oor godsdiens het hulle uiteenlopende sienings: Aan die een kant het hulle ’n behoefte aan groter individualiteit en vrye denke, en het hulle afgesien van ’n Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing; aan die ander kant, is daar ’n groeiende behoefte aan geestelike warmte, Godvresenheid en godsdienstige geborgenheid.

Dit is sekerlik waar dat sommige Afrikaners losgeraak het van die Christelike geloof, ook vanweë die sekulêre tydgees wat die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika die afgelope jare met mening getref het. Maar die teoloog Christina Landman het waarskynlik reg as sy sê daar is by baie ’n behoefte om “terug te keer na God” – al beteken dit nie ’n stormloop terug na die hoofstroom-kerke nie.

Die reaksie op Angus Buchan se “back to the basics”-prediking is die beste voorbeeld hiervan. Dit is immers veral Afrikanermans, honderdduisende van hulle, wat tydens reuse-saamtrekke deur dié lekeprediker aangegryp word.

Vir baie lê die bekoring van sy prediking juis in die eenvoud, direktheid en emosionele impak daarvan.

Is die Christendom wêreldwyd aan die sterf? In sy geheel gesien, het die “getallesterkte” van mense wat hulself Christene noem, nie in die afgelope halfeeu verminder nie. Inteendeel, die Christendom het plek-plek gegroei.

Of die persentasie “oortuigde Christene” dieselfde of meer is as ’n halfeeu gelede, is onmoontlik om te bepaal.

Maar die Christelike geloof lê beslis nie op sy sterfbed nie. Al kwyn dié geloof blykbaar in ’n tradisioneel “Christelike” vasteland soos Europa en in ander gesekulariseerde (of sekulariserende) gemeenskappe, toon die geloof in die Jesus wat twee millennia gelede in Betlehem gebore is, op ander plekke – van China tot Afrika – ’n verrassende groeikrag.

 

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.